Welcome to the Doctors' Portal
00:00 Sunday
Mediclinic News : Waarom Worcester se ginekoloë ophou babas vang

Title

Waarom Worcester se ginekoloë ophou babas vang

Date

2016-09-22

Link

News Description

NETWERK24 Worcester se vier privaat ginekoloë het Vrydag 16 September ’n gesamentlike brief uitgereik waarin hulle sê hulle sal net tot 31 Maart volgende jaar bevallings kan hanteer. Dokters Kobus Graaff, Emile Manefeldt, Corrie Prins en Steyn Smit sê hulle word genoodsaak om die verloskunde-deel van hul praktyke te staak weens die “astronomiese koste van vrywaringsversekering en die buitensporige eskalasie daarvan die afgelope twee jaar”. Hulle gaan geen normale geboortes óf keisersneë meer hanteer nie, en ook nie voorgeboortesonars doen nie. Swanger pasiënte wat hul babas ná 31 Maart verwag, is die afgelope maand reeds na dokters in die Paarl, Stellenbosch, Somerset-Wes en die noordelike voorstede van Kaapstad verwys. Pasiënte reeds in die dokters se sorg, se bevallings sal nog hanteer word. “Die koste daarvan (vrywaringsversekering) is sodanig dat ons dit eenvoudig nie kan bekostig nie. Ons versekering is tans die hoogste van enige geneeskundige beroep en die aanduidings dat hierdie kostes in die nabye toekoms nogeens buitensporig gaan eskaleer is redelik seker,” het die dokters in die brief gesê. “Die versekering teen eise – die indemnity cover – het die afgelope paar jaar so ge-eskaleer dat dit nou op ’n punt gekom het waar ons almal teen ’n verlies werk,” het dr. Smit in ’n telefoniese onderhoud gesê. “Dit kos my meer om ’n bevalling te doen as wat ek vir ’n bevalling kry. En ons het probeer om ’n bybetaling te vra, maar die mense betaal dit nie.” Die ginekoloë verwag die verliese wat hulle tans ly, gaan in die toekoms net groter raak. Dr. Johannes van Waart, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Verloskunde en Ginekologie (SASOG), sê die sluiting van verloskunde-praktyke is ’n landwye probleem. Hy skat 50 tot 80 verloskundiges het verlede jaar die veld verlaat nadat vrywaringsversekering gestyg het van R180 000 per jaar in 2013 tot R650 000 in 2016. “Die nuwe premies word eersdaags deur die Medical Protection Society (MPS) met SASOG bespreek en ons sal nie verbaas wees as die premies teen 2018 ongeveer R1 miljoen per jaar sal wees nie.” Volgens die MPS (deur wie die meeste SA verloskundiges dekking geniet) dwing ’n toename in die aantal en grootte van regs-eise teen dokters hulle om lidmaatskaptariewe te verhoog. Dit is gebaseer op huidige tendense en aktuariële berekeninge oor die toekomstige risiko in spesifieke velde. Die impak is veral groot in verloskunde. Dr. Smit sê nie een van hulle is seker of hulle finansieel sal oorleef deur net ginekologie te doen nie, maar hulle weet vir seker hulle sal nié oorleef as hulle voortgaan om bevallings te hanteer nie. “Dit was en is vir ons ’n uiters emosionele besluit,” het die dokters voorts in hul brief gesê. “Om [verloskunde] vaarwel te roep was vir elkeen van ons die moeilikste besluit van ons professionele lewe.” Dr. Willie Roux, ’n plaaslike pediater sê pediaters vorm oor jare heen ’n band met gesinne en is saam opgewonde oor nuwe aankomelinge. “Dit is vir ons altyd ’n voorreg om die babas te kan ontvang en te versorg . . . ’n baie spesiale deel van ons werk. Ons beskik ook oor ’n neonatale intensiewe eenheid met van die beste apparaat wat beskikbaar is en ook die beste personeel waarmee ons nog saamgewerk het. Dit gaan dus natuurlik vir ons en ons hele omgewing ’n groot ramp wees! “Op hierdie stadium meen ons dit is te vroeg om te weet hoe dit ons besigheid kan beïnvloed, of te bepaal of dit ’n tendens binne die breë raamwerk van ginekologie sal word,” sê Mediclinic. “Indien ’n dokter se praktyk verkies om nie ondersteuning te verskaf nie, sal dit as ’n operasionele kwessie hanteer word wat op hospitaalvlak bestuur moet word. Enige moontlike groter impak op die besigheid sal oor die lang termyn beoordeel word namate meer inligting beskikbaar word. “Ons doel is nie om enige pasiënt te benadeel nie en dus sal nood altyd hanteer word, ongeag die diagnose.” Groot rolspelers glo die situasie kan verbeter, maar dit gaan ’n groot, gekoördineerde poging verg. Die MPS het in November verlede jaar voorstelle gepubliseer wat hulle hoop sal lei tot hervorming in die huidige regs-eise-klimaat. SASOG het op sy beurt die BetterObs-program ontwikkel. “Die hoofdoel hiervan is om bevallings nog veiliger te maak vir moeders en babas. Sodoende gaan daar minder (en kleiner) eise wees,” sê dr. Van Waart. “Die vrywaringsversekeringsmaatskappye gaan eers aanpassings maak as eise minder en kleiner word. Ek voorsien dat dit wel gaan verbeter, maar net as almal – SASOG, mediese fondse, die regering, die regsberoep, die privaat hospitaalgroepe en die pasiënte – elkeen sy deel van die verantwoordelikheid gaan neem!” “Ons is en bly onherroeplik verbind tot die soeke na ’n oplossing vir hierdie toedrag van sake en sal geen energie spaar in hierdie verband nie,” sê die Worcester-ginekoloë. “Ons grootste begeerte is steeds om ’n oplossing te vind wat ons in staat kan stel om ons diens te hervat.”
Created at 2016/09/27 11:45 AM by Mediclinic
Last modified at 2016/09/27 11:45 AM by Mediclinic