Welcome to the Doctors' Portal
00:00 Sunday
Mediclinic News : Mark wag vir nuus oor Remgro en Mediclinic

Title

Mark wag vir nuus oor Remgro en Mediclinic

Date

2016-09-20

Link

News Description

PRETORIA NEWS Investec Sekuriteite het in 'n nuusbrief gesê die gerug dat Mediclinic 'n premie van 30% wil betaal, is wat sy aandeelprys seermaak. Die hospitaalgroep Mediclinic se aandeelprys het gister verder gedaal omdat die mark bekommerd is oor 'n moontlike transaksie met 'n Britse hospitaalgroep. Gerugte lui dat Mediclinic die res van Spire Healthcare wil koop nadat hy reeds verlede jaar 'n belang van 29,9% gekoop het. Daar is bespiegel dat Remgro binnekort 'n regte-uitgifte gaan doen om geld in te samel vir die transaksie asook om SAB se belang in Distell te koop. Remgro se resultate vir die boekjaar tot einde Junie word vandag bekend gemaak. Mediclinic se aandeelprys het gister 1,25% laer gesluit op R170,85. Begin September was dit nog op R198 en einde Julie op sy jaarhoogtepunt van R214. Die webwerf Betaville het Vrydag berig Mediclinic is besig om 'n aanbod vir Spire Healthcare voor te berei. Spire is een van die 250 grootste genoteerde maatskappye in Londen. Volgens Betaville het "uitstekende bronne" gesê Mediclinic werk saam met die bankiers Morgan Stanley om die res van die maatskappy te koop. Mediclinic het verlede jaar sy hoofnotering na Londen verskuif en is een van die 100 grootste genoteerde maatskappye daar. Betaville het gesê laat in Augustus het 'n paar joernaliste in Brittanje verwys na 'n navorsingsnota van JP Morgan waarin gesê is dat die tyd dalk nou reg is vir Mediclinic om die res van Spire te koop, gegewe die impak wat Brexit op die pond gehad het. Die beleggingsmaatskappy Remgro, wat Mediclinic se grootste aandeelhouer is, het op 'n algemene vergadering in Augustus van aandeelhouers toestemming gekry om 'n regte-uitgifte te doen om kapitaal vir aantreklike groeigeleenthede in te samel om die maatskappye in sy portefeulje te ondersteun met hul groei. Dit word beskou as 'n aanduiding dat Mediclinic dalk nou die transaksie wil doen. Die mark is glo bekommerd oor hoe die transaksie gefinansier gaan word. Daar is sprake dat dit teen 'n groot premie teen Spire se huidige aandeelprys gaan plaasvind. Volgens DigitalLook het Investec verlede jaar, toe Mediclinic die aanvanklike belang gekoop het, gesê dit is nie onwaarskynlik dat Mediclinic Spire in geheel sal oorneem nie. Etienne Eloff, 'n portefeuljebestuurder van FNB Sekuriteite, se dit sal sin maak, want Mediclinic verkies dit om 'n bate heeltemal te beheer as dat hy 'n minderheidsbelang het. Hy sê dit wil voorkom of die mark bekommerd is oor wat Mediclinic gaan betaal en hoe hulle dit gaan finansier. Tot die prys bekend is, is dit moeilik om te bepaal hoe dit Mediclinic se wins gaan raak. Ook Investec Sekuriteite het in 'n nuusbrief gesê die gerug dat Mediclinic 30% meer as die aandeelprys wil betaal, is wat sy aandeelprys seermaak.
Created at 2016/09/27 11:48 AM by Mediclinic
Last modified at 2016/09/27 11:48 AM by Mediclinic