Welcome to the Doctors' Portal
00:00 Sunday
Mediclinic News : ‘SÓ SAL JY 15% MEER HOES VIR MEDIES’

Title

‘SÓ SAL JY 15% MEER HOES VIR MEDIES’

Date

2018-11-11

Link

News Description

NETWERK24 Siekefonds-premies vir almal ouer as 34 kan onmiddellik met minstens 15% styg as die regering deurdruk met beplande wetswysigings. Die Wysigingswetsontwerp op Mediese Skemas kan mediese fondse knak, waarsku kenners. Só waarsku van die rolspelers in voorleggings aan die departement van gesondheid oor die Wysigingswetsontwerp op Mediese Skemas. Dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, het in Junie die wetsontwerp bekend gestel as “onmiddellike verligting” vir verbruikers terwyl die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) ingestel word. Maar rolspelers wat tot nou toe kommentaar kon lewer, waarsku presies die teenoorgestelde kan weens die wetsontwerp gebeur. Trouens, dit kan siekefondse heeltemal knak, sê hulle. Van die ingrypendste veranderinge wat Motsoaledi aangekondig het, is: ’n Perk op premies vir kinders en jong volwassenes tussen die ouderdom van 18 en 34. Die wetsontwerp sê kinders mag nie meer as 20% betaal van die volwassenes nie en die jong volwassenes nie meer as 40% van die ouer lede nie. Die doel is oënskynlik om meer jonger mense te lok. Barry Childs, ’n aktuaris van Insight Actuaries & Consultants wat konsultasie in die mediesefondsbedryf doen, sê in hul voorlegging dit kan die geldelike posisie van fondse dramaties verander. Insight het die data van lede se huidige premies en ouderdomme ontleed. Interessante syfers oor mediese fondse. Childs sê aan Rapport fondse sal premies vir die ouer volwassenes met gemiddeld 15% moet laat styg om hulle in dieselfde finansiële posisie te plaas as nou. Hy sê hoewel dit van skema tot skema sal afhang, kan baie hooflede en volwasse afhanklikes meer betaal, asook ’n enkellid en pensioentrekkers, om te vergoed vir die verlies. Dié verhoging sal bykomend wees tot die ongeveer 10% per jaar waar fondse in die laaste jare boer. Jonger begunstigdes betaal tans gemiddeld meer as wat hulle eis. Jong mense sluit egter ook minder aan by fondse. Luidens die Raad op Mediese Skemas (RMS) se jongste jaarverslag is net 11,3% van lede tussen 20 en 29 jaar oud. In 2007 was dit nog 14% van lede. Motsoaledi het op die mediakonferensie gesê bybetalings gaan verbied word. Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van die administrateur Discovery Health, sê in hul voorleggings dit is egter glad nie wat die wetsontwerp sê nie. Hy wys uit dat bybetalings net verbied word vir die sogenaamde “omvattende diensvoordele” wat net ’n herbenaming is vir wat nou bekend staan as voorgeskrewe minimum voordele. Fondse moet reeds dié voordele teen die werklike koste dek en mag nie bybetalings hef nie. “Die posisie bly dus presies dieselfde,” sê Broomberg. Dis idealisties om te dink bybetalings kan verbied word sonder om koste op te jaag, want dit word juis gehef om lede twee keer te laat dink oor die gebruik van sekere dienste of verskaffers. Kenneth Marion van Bonitas Kenneth Marion, bedryfshoof van Bonitas, sê dis idealisties om te dink bybetalings kan verbied word sonder om koste op te jaag, want dit word juis gehef om lede twee keer te laat dink oor die gebruik van sekere dienste of verskaffers. Marion sê die meeste bybetalings is in elk geval vir die verskil tussen die medici se tarief en die tarief wat die siekefonds sal dek. Laasgenoemde is gegrond op die nasionale prysverwysingslys (NHRPL) wat 12 jaar gelede behoorlik hersien is en dokters vra daarom baie meer. “Die NHRPL-tariewe vir ’n konsultasie is steeds onder R300,” sê hy as voorbeeld. Die wetsontwerp stel veranderinge aan wagperiodes en laat-aansluitingspremies voor. Ingevolge die voorstel sal kinders byvoorbeeld nooit ’n wagperiode mag hê nie en geslote fondse sal ook nie meer wagperiodes kan hef wanneer hul lede later afhanklikes wil toevoeg nie. Die Suid-Afrikaanse Private Praktisynsforum (SAPPF), wat sowat 6 500 spesialiste en ander private praktisyns verteenwoordig, sê in hul voorlegging die streng voorgestelde reëls verhoog alles die risiko van fondse, maar terselfdertyd word fondse nie gehelp deur byvoorbeeld lidmaatskap verpligtend te maak of van risiko-gelykmaking gebruik te maak nie. Risiko-gelykmaking word tans aangewend deur byvoorbeeld almal dieselfde premie te vra sodat die jonges die oues en die gesondes die siekes subsidieer. “Dis ’n ope vraag of die beperkings volhoubaar sal wees vir mediese fondse,” sê die SAPPF. Motsoaledi het op die mediakonferensie gesê siekefondse sit met reuse-reserwefondse wat hulle kan gebruik vir hul lede om premies goedkoper te maak. Op die oomblik belê fondse dié reserwes en wend die beleggingsinkomste aan. Broomberg sê ten spyte van Motsoaledi se kritiek teen reserwefondse verander die wetsontwerp nog nie die wetlike vereiste dat reserwefondse 25% van jaarlikse premies moet bedra nie. Hy verwelkom die beplande stappe om dit te hersien. Die 25%-limiet word al lank gekritiseer omdat dié drempel vir groot fondse miljarde rande beloop terwyl dit dalk vir ’n klein fonds nie naastenby genoeg reserwes is vir groot eise nie. Die departement van gesondheid het nie op Rapport se navrae gereageer oor hoeveel kommentaar ontvang is nie.
Created at 2018/12/05 09:09 AM by Mediclinic
Last modified at 2018/12/05 09:09 AM by Mediclinic