Welcome to the Doctors' Portal
00:00 Sunday
Mediclinic News : NGV-WET: ‘DIS GOED DAT TESOURIE SE BRIEF LEK’

Title

NGV-WET: ‘DIS GOED DAT TESOURIE SE BRIEF LEK’

Date

2018-11-22

Link

News Description

NETWERK24 Dit is ’n goeie ding dat die verdoemende brief van die nasionale tesourie oor die nuwe weergawe van die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) uitgelek het. Dit is van die kommentaar van die private sektor oor die sterk bewoorde brief wat Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal van die nasionale tesourie, aan dr. Olive Shisana, pres. Cyril Ramaphosa se NGV-adviseur, geskryf het. Dit blyk uit die brief die konsepwetsontwerp is in Oktober drasties verander voordat dit na die kabinet teruggestuur is. Prof. Nicola Theron, besturende direkteur van die navorsingsgroep Econex, verwelkom die feit dat die brief uitgelek het. Sy meen die brief toon die druk van die tesourie se kant af oor sekere aspekte van die NGV, soos dat die koste daarvan bepaal moet word. In die brief word kommer uitgespreek oor talle aspekte van die NGV waarvan die koste nog nie bepaal is nie. Die tesourie kritiseer ook die invoeging van ’n artikel wat mediese fondse in hul huidige formaat verbied. Sy stem saam met die tesourie dat dié artikel tot jare lange regsgedinge gaan lei. “Dit is geheel en al onaanvaarbaar.” Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van Discovery Health. Dr. Jonathan Broomberg, uitvoerende hoof van die administrateur Discovery Health, sê die brief beklemtoon verskeie probleme met die gewysigde konsepwetsontwerp. Hy meen egter die onlangse verklarings van die departement van gesondheid, die tesourie en die presidensie dui daarop dat hierdie kwessies aandag kry. “Dit is dus moeilik om in besonderhede kommentaar te lewer totdat ons die hersiene konsepwetsontwerp wat uit hierdie proses kom, gesien het.” Luidens die nuusbrief Spotlight, wat deur Section27 en die Treatment Action Campaign gepubliseer word, onthul die tesourie se brief die “streke (shenanigans) met die NGV”. “Die NGV is baie, baie belangrik, maar ek verstaan nie die haas daarmee nie. Ironies, as die kwessies wat die tesourie opper nie aandag kry nie, gaan die NGV onbepaald vertraag word,” het Mark Heywood, uitvoerende direkteur van Section27, aan Spotlight gesê. Hy meen die nuwe wetsontwerp wat deur Shisana en die minister van gesondheid bevorder word, gaan ’n fonds skep wat kwesbaar vir “groot korrupsie gaan wees”. “Dit is hartseer dat dit nou gebeur. Die oorweldigende boodskap van die onlangse beraad oor die gesondheidsbedryf wat die president byeengeroep het, was dat daar eers gefokus moet word om die gesondheidstelsel reg te maak. Shisana ignoreer nie net die skriftelike kommentaar op die wetsontwerp nie, maar ook die 600 mense wat die beraad bygewoon het.” Ironies, as die kwessies wat die tesourie opper nie aandag kry nie, gaan die NGVonbepaald vertraag word. Mark Heywood van Section27 Dr. Boshoff Steenekamp, senior strategie-adviseur van Momentum Health, meen die uitgelekte brief toon die “behoorlike demokratiese proses wat aan die gang is en dat tesourie heeltemal betrokke is”. Hy sê van die wysigings waaroor die tesourie bekommerd is, soos veranderinge aan die provinsiale pligte oor gesondheid, kan net binne die raamwerk van die Grondwet gedoen word. “Dit kan nie gewysig word sonder om die Grondwet te wysig nie.” Hy sê die huidige weergawe van die wetsontwerp sal eers voor die kabinetskomitee dien waar die tesourie sy insette kan lewer voordat dit na die kabinet sal gaan. As die wetsontwerp parlement toe gaan, moet dit daar deur ’n konsultasieproses gaan en die NGV moet nog by Nedlac gedebatteer word. Mediclinic het by navraag gesê die proses om die NGV in te stel, moet “die grootste vlak van deursigtigheid volg en alle besorgde partye moet voldoende geleentheid kry om aan lewendige gesprekke daaroor” deel te neem.
Created at 2018/12/05 11:17 AM by Mediclinic
Last modified at 2018/12/05 11:17 AM by Mediclinic