Welcome to the Doctors' Portal
00:00 Sunday
Mediclinic News : NETCARE: DOKTERS VOLG NOU MEER DIE REËLS OOR OPNAMES

Title

NETCARE: DOKTERS VOLG NOU MEER DIE REËLS OOR OPNAMES

Date

2018-11-20

Link

News Description

NETWERK24 Netcare het drasties minder pasiënte in die drie maande tot einde September in sy hospitale gehad weens minder opnames vir longontsteking en brongitis. Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se hospitale in Suid-Afrika, sê dit is hoofsaaklik danksy die beter aanvaarding deur spesialiste van die protokol wat gevolg word om pasiënte vir dié toestande op te neem. Die protokol is deur spesialiste bepaal. Volgens hom volg die beter aanvaarding van die prosedures ná ’n hernude fokus van mediese fondse daarop. “Dit (brongitis en longontsteking) is een gebied waarop dit redelik maklik is om te bepaal of die regte protokol gevolg is,” sê hy. “Dit was nié omdat dit ’n matiger winter was ten opsigte van die siektes nie. Net ’n klein afname is in Julie gevind in die mees algemene mikro-organismes wat longontsteking veroorsaak.” Mediclinic het ook verlede week gesê minder mense is dié winter weens longontsteking en brongitis gehospitaliseer. Selfs ten spyte van die drastiese daling in opnames in die laaste kwartaal van sy boekjaar het Netcare se pasiëntdae skerp gestyg, met 5,9%, in die boekjaar tot einde September. Dit is toegeskryf aan die goeie eerste nege maande wat met opnames beleef is, plus die opnames in die psigiatriese hospitale van Akeso, wat nou bygetel word nadat Netcare dié maatskappy bekom het. Die pasiëntdae vir sy eie hospitale het met 1,7% gestyg vergeleke met 2017, toe opnames gedaal het. Die styging in pasiëntdae het gehelp om Netcare se inkomste met 8,7% tot R20 miljard te verhoog. Volgens Du Plessis gaan Netcare vir die eerste keer in jare in die huidige boekjaar geen beddens toevoeg tot sy hospitale in Suid-Afrika nie. Netcare het die afgelope jare amper 100 beddens elke jaar toegevoeg tot sy hospitale. “Dit hou nie met die onsekerheid van beleid te doen nie, ons het genoeg beddens,” verduidelik Du Plessis. Dit hou wel daarmee verband dat mediese fondse baie lae groei in nuwe lede het. Dis nog iets wat Mediclinic ook verlede week uitgelig het as ’n bron van kommer. Netcare se gemiddelde besetting in sy hospitale is 66%. Hy wil eerder dié syfer verhoog voordat hy nuwe beddens oorweeg. Die hospitaalgroep gaan van sy lisensies vir beddens rondskuif na hospitaaleenhede wat dit benodig. In die afgelope jaar is 62 beddens só rondgeskuif behalwe vir die ses nuwe hospitaalbeddens en 23 beddens in sy psigiatriese eenhede wat toegevoeg is. Nadat goedkeuring van die Mededingingstribunaal gekry is om Akeso te koop, moet Netcare sy Netcare Rand- en Netcare Bell-hospitaal verkoop. Dit moet onderskeidelik voor Maart 2019 en September 2019 gedoen word. Moontlike kopers is reeds geïdentifiseer. Dié hospitale se opnames is daarom nie ingesluit in sy syfers nie. Netcare se resultate sluit nou net die hospitale in Suid-Afrika in nadat hy einde Maart aangekondig het hy gaan sy belange in Brittanje verkoop. Dié plan vorder, maar geen transaksie is afgehandel nie. In die jaar het Netcare ook elke hospitaal se winsgewendheid ondersoek. Daar is sowat ’n handvol wat nie baie winsgewend is nie. As hulle nie omgekeer kan word nie, gaan hulle verkoop word: “Dis die laaste uitweg om hulle te verkoop. Dit is net ’n handjievol hospitale.” Twee hospitale in Alberton – Netcare Union en Netcare Clinton – wat sowat 500 m van mekaar geleë is, gaan gesluit word en na ’n nuwe gebou sowat ’n kilometer daarvandaan geskuif word wat nog gebou gaan word. Die nuwe hospitaal gaan 430 beddens hê. Dit sluit in die beddens van die ou hospitale en nog beddens wat oorgeskuif word. Die nuwe gebou word 50% deur Netcare besit en die res word deur Nedbank en ’n ontwikkelaar besit. Netcare verwag dat die groei in pasiënte in die afsienbare toekoms onder druk gaan bly. Die vraag na psigiatriese opnames gaan egter sterk bly groei. In die huidige boekjaar word kapitaalbesteding van R1,6 miljard beoog. Dit sluit in die sowat R600 miljoen wat bestee gaan word om die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg met 100 beddens uit te brei. Dié hospitaalbeddens word egter eers in 2020 in gebruik geneem.
Created at 2018/12/05 11:22 AM by Mediclinic
Last modified at 2018/12/05 11:22 AM by Mediclinic