Welcome to the Doctors' Portal
00:00 Sunday
Mediclinic News : MEDIESE INFLASIE ‘IS EINTLIK 11%’

Title

MEDIESE INFLASIE ‘IS EINTLIK 11%’

Date

2019-03-24

Link

News Description

RAPPORT SAKE Lede gebruik duurder, meer produkte, sê Discovery Mediese koste het amptelik met net 4,3% gestyg, maar die land se grootste siekefonds-administrateur, Discovery Health, sê die werklike inflasie is meer as 11%. Statistieke Suid-Afrika (SSA) het pas die Februarie-inflasiesyfers bekend gemaak. Daarvolgens het siekefondspremies met 8,3% op ’n jaargrondslag gestyg. Mediese praktisyns se tariewe was gemiddeld 5,7% hoër. Dokters het die hoogste styging van 5,8% gehad, gevolg deur tandartse (+5,5%) en hospitale (+4,5%). Inflasie op mediese produkte staan op 2,3%. Dié inflasiesyfers is breedweg in ooreenstemming met algemene verbruikersprysinflasie (VPI), maar Discovery Health Medical Scheme, wat 32% van siekefondslede verteenwoordig, sê in praktyk is gesondheidsorg baie duurder as ’n jaar gelede. Trouens, Discovery se indeks van mediese inflasie wys mediese inflasie was in 2018 11,1%, byna 6 persentasiepunte hoër as VPI. Die verskil in dié twee syfers is omdat hulle twee verskillende dinge meet. SSA kyk wat die werklike prysstyging van goedere en dienste is terwyl Discovery kyk na die styging in eise van mediese fondse. Die groot verskil word dus toegeskryf aan ’n toename in die gebruik van dienste en produkte en nie net gewone prysstygings nie. Pasiënte gebruik duurder produkte en gebruik meer mediese dienste as ’n jaar tevore, sê Discovery. Volgens hulle was die gebruik van dienste 5,9% hoër. In 2017-’18 het gebruik aan die vraagkant (lede wat dienste wil hê of benodig), sowel as die aanbodkant (praktisyns en hospitale wat dienste lewer) gestyg. Discovery se data wys eise het tussen 2008 en 2018 elke jaar met gemiddeld 11,3% gestyg, wat sowat 5,3 persentasiepunte bo VPI vir die tydperk is. Van al die komponente wat in die tien jaar tot mediese inflasie bygedra het, het die gebruik van dienste met gemiddeld 4,8% per jaar toegeneem. Daarvan was 2,9% weens vraagkant-faktore. Discovery Health skryf dit daaraan toe dat lede van siekefondse al hoe ouer word en meer sorg benodig. Met elke jaar van veroudering neem mediese eise met sowat 2% tot 3% per jaar toe. Die hoër voorkoms van chroniese toestande soos diabetes, hoë bloeddruk of kanker dra ook by tot ‘n styging aan die vraagkant. Tans is minstens een uit elke view lede van Discovery geregistreer vir ’n chroniese toestand, wat ’n styging van 61% is sedert 2008. Volgens Discovery eis van dié lede omtrent vier maal meer as ’n gesonde lid. Die aanbodkant het 1,9% tot gemiddelde mediese inflasie bygedra in die tien jaar tot 2018. Daaronder tel die koste van gesondheidsdienste vir mediese fondse weens hoër tariewe, en ’n groter aanbod van hulpbronne soos nuwe hospitale, medikasie en tegnologie. Die stygende en oormatige gebruik van gesondheidsdienste is volgens ’n internasionale verslag oor wêreldwye mediese tendense in 2019 oral ’n probleem. Luidens die verslag, opgestel deur Willis Towers Watson op grond van ’n opname onder meer as 300 gesondheidsversekeraars in 77 lande, het 70% van respondente gemeen oormatige gebruik is omdat praktisyns te veel dienste aanbeveel, en 52% sê dis siekefondslede wat op te veel dienste aandring. Willis Towers Watson sê ook die verhoging in die BTW-koers in Suid-Afrika tot 15% is in ’n mate verlede jaar deur siekefondse geabsorbeer, maar dit moes vanjaar in die vorm van hoër premies aan siekefondslede deurgegee word. Sonder die BTW-verhoging kon gemiddelde premieverhogings vanjaar laer wees as verlede jaar. Die gemiddelde wêreldwye mediese inflasiekoers vir vanjaar word op 7,8% geraam. Die grootste stygings word verwag in die Midde-Ooste en Afrika met verwagte stygings in mediese inflasie van 12,4%.
Created at 2019/04/01 10:58 AM by Mediclinic
Last modified at 2019/04/01 10:58 AM by Mediclinic